Die nasionale huisbouersregistrasieraad (NHBRC) oorskry sy wetlike magte deur voor die voet waarborge te vereis van ontwikkelaars wat laat registreer, sê ’n Pretoriase konstruksieprokureur.
Antoinette Slabbert,
Die nasionale huisbouersregistrasieraad (NHBRC) oorskry sy wetlike magte deur voor die voet waarborge te vereis van ontwikkelaars wat laat registreer, sê ’n Pretoriase konstruksieprokureur.
Mnr. Hendrik Markram ondersoek die grondwetlikheid van dié praktyk nadat kliënte aangedui het dat die NHBRC se werkwyse hul sakke knou en hulle só uit die boubedryf dwing.
Volgens wet moet alle huisbouers by die NHBRC geregistreer wees en moet alle huise 15 dae voordat bouwerk begin, ook geregistreer word.
Die NHBRC is in die lewe geroep om huiseienaars te beskerm teen swak bouwerk, maar word gereeld gekritiseer omdat sy waarborgfonds propvol geld is, terwyl hy traag is om eise uit te betaal.
Volgens Markram gebeur dit soms dat ontwikkelaars weens administratiewe nalatigheid projekte laat registreer.
Die wet maak egter voorsiening vir boetes volgens ’n voorgeskrewe formule. As die bouwerk reeds aan die gang is, moet die bouer boonop inspeksiegeld betaal en sertifikate van kundiges verskaf wat bevestig dat die ontwerp en vakmanskap aan die NHBRC se standaarde voldoen.
As die bouwerk oopgegrawe moet word of oorgedoen moet word, is dit alles vir die bouer se rekening. Die laat registrasie word eers aanvaar nadat sulke stappe afgehandel is.
Volgens die regulasies “mag die raad enige waarborg of vrywaring vereis wat hy redelik nodig ag” om die risiko van sy bedrywighede te dek en te sorg dat hy genoeg geld het om moontlike eise te dek.
Volgens Markram vra die NHBRC nou voor die voet waarborge van laat registreerders, al het hulle die boetes betaal en bewys dat niks skort met hul vakmanskap nie. Daar is ook nie sprake daarvan dat die NHBRC te min geld het nie.
Vir een van sy kliënte beteken dit dat hy R800 000 vyf jaar lank in ’n bankrekening moet laat lê omdat sy ontwikkeling van R8 miljoen laat geregistreer is.
Hy sê in ’n ander geval het die bouer nagelaat om een eenheid in ’n groot ontwikkeling te registreer. “Daar is geen verskil in die kwaliteit van bouwerk by dié eenheid teenoor die ander nie, maar tog moet die bouer ’n waarborg daarvoor gee.”
Volgens Markram antwoord die NHBRC nie navrae oor die basis waarop die waarborgbedrag bereken word nie.
Hy sê ontwikkelaars kan nie op gelyke voet met die NHBRC beding nie, want as hulle hul rug styf maak, kan die NHBRC weier om registrasiesertifikate uit te reik.
Ontwikkelaars kan nie hul eenhede van die hand sit sonder dié sertifikate nie, omdat banke dit vereis voordat hulle ’n verband op die eiendom toestaan.
Groot ontwikkelaars gee glo maar die waarborg net om die projekte te kan afhandel. Kleiner ontwikkelaars kan dit egter nie bekostig om geld jare lank so onproduktief te laat lê nie en een van Markram se kliënte het al sy personeel van 50 tot tien verminder. Hy oorweeg dit om heeltemal op te hou huise bou.
Me. Beatrice Motsitsi, woordvoerder van die NHBRC, het bevestig dat waarborge vereis word vir alle laat registrasies en dat die raad meen hy tree binne sy regte op. Sy sê die formule waarvolgens die waarborgbedrag uitgewerk word, is “baie ingewikkeld”, maar die persoon wat dit kan verduidelik, was nie beskikbaar nie.
No comments:
Post a Comment